|
Die plekkie is leeg en die herinneringe laat jou huil ...
Meeste van ons weet hoe dit voel om iemand aan die dood te moet afstaan, hoe intens die emosies en herinneringe is en hoe verskriklik alleen dit is wanneer almal aangaan met hul lewens ná die begrafnis. Met wie praat jy, vir wie vertel jy, met wie deel jy wat sal kan verstaan hoe dit voel?
So drie jaar gelede het 2 van my vriende selfmoord gepleeg in die bestek van slegs drie dae. Ek was teen die grond en het selfs in 'n kliniek beland oor die 'as-ek-maar-net' van die lewe. Maar niks sou my voorberei vir my pa se dood verlede jaar nie. Die vrae sonder antwoorde het my gemartel, elke dag het sy eie stryd gehad. Ek was gevul met hartseer, woede, pyn en vrae. 'n Skrale paar maande na my pa se afsterwe, is my vriendin se man ook skielik oorlede en het ons saam deur die eina-pyn geworstel elke dag.
Weet ons hoe dit voel om iemand aan die dood af te staan? Definitief!
Ken ons die pyn, vrae, verlange, opstand, woede, hartseer, soeke en alleenheid? Ons het dit geleef, déúrleef en óórleef!
Ek wil graag uitreik na mense wat ook geliefdes, vriende of selfs net kennisse aan die dood afgestaan het, maak nie saak op watse manier of wanneer die verlies plaasgevind het nie.
Lees-en-skryf : Vir mý is skryf 'n uitlaapklep en ek het 'n boek geskryf "Eina-ouch" waarin ek my eie belewenis en ervaring van verlies deel en ook leiding gee oor die rouproses en wat om te wagte te wees ná die begrafnis. My ander boek, "Tekkies en Rolskaatse" is 'n volledige stewige bundel wat die "Eina-ouch" in het, sowel as gedigte en kort verhale. Albei boeke is gebind maar daar is wel 'n prysverskil in die twee boeke. Dit is gewone taal deur 'n doodgewone mens, geen 'fancy' of hoogdrawende woorde en terme nie, net ek en my stryd en 'n getuienis van die Here se Genade. Dit is mý hartstaal en mý ondervinding en ek glo dit sal iewers vir iemand weer hoop kan bring. Gaan kyk gerus by die Boekwinkel.
Ondersteuning : My vriendin, Sarie Beckmann, het deur haar eie pynlike ondervinding geleer dat die dood van jou lewensmaat jou hele lewe, perspektief en omstandighede oornag kan verander en haar intense worstelstryd het ná die hele rouproses, uiteindelik 'n oorwinningstryd geword. Vandag is Sarie deurweek met die Here se genade, liefde, vrede en barmhartigheid. Sarie ken die eensaamheid en alleenheid wanneer almal aangaan met hulle lewens 'n paar weke na die begrafnis, wanneer al die sms'e stil word en die besoekies skaars is. Vandag is Sarie in 'n posisie om 'n bruikbare en kosbare instrument in die Here se Hand te wees deur haar empatie, ondervinding en lesse met ander te deel en te luister na ander se behoefte om oor hulle verlangens, herinneringe en vrae te gesels. Sarie het 'n passie ontwikkel om mense by te staan wat deur dieselfde leed, pyn, verlies en vrae moet worstel en sy is bereid om dáár te wees met 'n sms, gebed, e-pos, skouer en oor wanneer al die ander al vergeet het van jou pyn. As jy van iemand anders weet wat ondersteuning nodig het, hetsy dit met 'n onlangse of lank vergete verlies te doen het, kontak gerus vir Sarie Beckmann by 079 510 5885 of sariebec@absa.co.za
|